Die idee het ontstaan uit ‘n tydskrif-onderhoud wat ek moes doen met die vader van ‘n jongman wat daarvan aangekla is dat hy sy meisie vermoor het. Dit was ontroerend om te sien hoe diep getref hierdie vader was en hoeveel hy wou opoffer om sy seun te red. Dit het my laat wonder oor die hoë persentasie vaderlose gesinne in ons samelewing. Hoe affekteer dit die geweld wat ons in misdaad sien? En hoe belangrik die man en vader in ‘n gesonde samelewing is.
Ek wou ook meer weet oor motorkapings, wie pleeg dit en wat alles kan skeefloop tydens so ‘n misdaad. Dit het aanleiding gegee tot my middernagtelike ‘jag’ op gesteelde en gekaapte voertuie op pad na ‘chop shops’ in Soweto. Die maatskappy Tracker het my toestemming gegee om saam met sy dapper ‘ridders van die nag’ rond te ry – teen dikwels verblindende spoed – en selfs op ‘n kol vir die koeëls te koes.